Afrikaans
In haar derde kosboek kyk Barbara Joubert terug na die geregte, kombuise, bestanddele en landskappe wat haar liefde vir kosmaak oor ’n loopbaan van dertig jaar aangewakker het.
Die inspirasies vir Kostalgie spruit uit vele oorde: van haar familie-plaas op die Nuweveldberge in die Karoo, tot haar ouerhuis in Tamboerskloof in Kaapstad. En deur haar reise na onder meer Frankryk, Italië, Portugal en Brittanje is Barbara se passie vir kos as kulturele uitdrukking ontwikkel, die invloed waarvan vir haar ‘n onlosmaaklike deel van haar uitdrukking as kok en joernalis geword het.
“Wat ek van die wêreld gesien het, is dat dit een groot kombuis is,” sê Barbara. “Kos is die een gemeenskaplike faktor waaroor elke nasie trots, en mededeelsaam is. Hoewel ek in Oos, Wes, Tuis, Bes glo en my heelwat op Suid-Afrikaanse kos toespits, moes ek my herinneringe oproep van die maaltye en geure wat ek in ander lande ervaar het. Dit is immers deel van die storie van wie ek is.”
Of dit Portugal se vark en seekos, die huiskos van Franse gasvryheid of hartlike pasta-geregte van Italië is, Kostalgie word saamgesnoer deur gemaklike vertellings van smaaklike plekke met toeganklike resepte.
Tussendeur verskyn die fotografie van Micky Hoyle, een van Suid-Afrika se voorste kosfotograwe wat nie net Barbara se geregte op die blaaie laat lewe nie, maar wie ook na die buiteland gereis het om die kleure, mense en produkte waaroor geskryf word vas te vang.
Kostalgie – Geure van my Lewe is ’n besonderse toevoeging tot die boekrak van enige kosliefhebber.